All Posts (499)

Sort by

Stap vir Stap - Deel 8 - Spoed en Diepte

Jy't dit seker sien kom... Hierdie ding gaan nie so maklik werk soos ek jou vertel het in die vorige paar lesse nie. Ek bedoel - dis logies: Kom ons veronderstel jy wil iets afneem met 'n groot lensopening (F2.8), en dus min diepte van veld. Dis 12:00 die middag, en die son skyn. (Hoekom neem jy foto's teen 12:00 die middag as die son skyn, het jy niks anders om te doen nie?) Nou as jy werk met 'n lensopening van 2.8 (as jy die A knoppie gebruik), kan die sluiterspoed wat die kamera aandui dalk iets soos 1/500ste van 'n sekonde wees. Dit is geen probleem nie --- Maar kom ons neem die volgende scenario: Dis 12:00 die middag - 'n helder dag - jy wil 'n watervalletjie afneem dat dit soos "mistigheid" lyk wat teen die kranse afgly (of dan afwasem). Jy weet dat jy teen 'n sluiterspoed van om en by so 1/8 of 1/2 sekonde gaan regkom. Jy het jou driepoot by jou. Die komposisie is perfek opgestel. Jy neem die foto! Raai wat? Dis oorbelig!!! Dis amper spierwit!! Jy huil. Jy vloek jou kamera. Jy dink aan die AUTO knoppie - jy besef jy mag nie. Jy weet dat kreatiwiteit met denke, planne en probeerslae te voorskyn kom - 'n Feetjie verskyn (in jou kop). Die feetjie se: "Kom ons maak 'n plan." Nou voor jy verder lees - wat is die eerste moontlike plan? AHA! Jy weet jy kan nie ie sluiterspoed inboet nie - jy moet dit gebruik om die effek van die mistige water te skep. So - hoe kan jy minder lig laat inkom by die lens! AHA! Jy maak die lensopening so klein as moontlik (F22 of meer) - Jy is bly oor die diepte van veld, wat jy as bonus bykry... Jy neem die foto - dis nie so ver oorbelig nie. Dit kan selfs werk...veral as die stroompie of waterval in die koelte is. Dalk werk dit nie. As dit werk - Wel gedaan. As dit nie werk nie - hier is die realiteit: Jou kamera kan doen wat moontlik is, maar dalk is die lig steeds te helder. (Jy wil mos 12:00 in die middag foto's neem, - ai tog - maar kom ons kyk wat ons kan doen) As jy die beste balans tussen diepte van veld en spoed kry, en dit werk nie - dan moet mens verder dink. Nou vir eers - Vra jouself of jy die verhouding tussen "Diepte van veld" en "Lensopening" verstaan? Antwoord jouself eerlik. Want dan kan ons verder gaan... As jou antwoord "Nee" is, werk weer deur die lesse. As jou antwoord "Ja" is. Dan wil jy seker weet hoe jy bg probleem gaan oplos - Wel, dis hier waar ander toerusting bykom. Mens kry filters wat "Neutral Density"-filters genoem word - hulle het verskillende grade van donkerheid, en kan voor aan jou lens geskroef word om bietjie "donkerder omstandighede" te skep. Dus, skielik kan jy die spoed laag hou en die diepte van veld (F-stop) dieselfde hou - EN die stroompie kan teen 'n stadige spoed afgeneem word - lekker pragtige mistige water. Volgende keer gaan ek gesels oor hoe om in lae lig sonder 'n flits(flash) foto's te neem.
Read more…
Comments: 0
Aha - Spoed - sommige mense kan net nie daarsonder nie! Juis daarom is daar in elke kamera 'n spoedknoppie - net om te kyk dat jy nie oorhaastig raak nie! Darem nie heeltemal nie... Tog, hierdie keer gesels ons oor die S knoppie - of, as jy 'n Canon het die Tv knoppie (T staan vir TIME, terwyl S vis SHUTTERSPEED staan) - dus, as jy nog altyd gedink het die tyd gaan gou verby - dan was jy reg, want as mens die som doen is Tyd mos gelyk aan spoed! Genoeg stories --- Wat die S (of Tv) knoppie doen, is om die kamera se sluiter vir 'n bepaalde tyd oop te hou, sodat lig kan inkom (ons verf immers met lig). Nou, as jy onthou het dat ons in die vorige les oor die lensopening gesels het, behoort daar nou vir jou 'n lig op te gaan - (indien dit nie gebeur nie, beskou dit maar bloot as 'n moontlike load-shedding termyn in jou brein - so moenie stress nie, jy sal binnekort kan geld eis omdat jy nie weet nie - dit werk deesdae so). Wat die lig vir jou beteken is die volgende: A of Av bepaal hoe GROOT die lens opening is, en hoeveel diepte van veld daar is. T of Tv bepaal hoe lank die lens oop is, en dus hoe LIG of donker die foto is. Die ideaal is nou 'n kombinasie van die twee - maar dit kom eers in een van die volgende lesse - vir nou, net so 'n paar belangrike dinge: Jou kamera se lig word gemeet in sekere fraksies van sekondes of meer as sekondes: Dus 100 op die kamera beteken EEN HONDERDSTE VAN 'N SEKONDE ens. Wanneer dit egter meer as 'n sekonde is, bv 3 sekondes sal jou kamera dit met aanhalingstekens aandui - dus sal 3" beteken 3 Sekondes. Mooi. As jy dit verstaan net EEN BELANGRIKE reel: Probeer om nooit teen 'n laer spoed as 1/60 van 'n sekonde te neem as jy nie 'n driepoot (of ander vorm van steun) gebruik nie. Die risiko raak groot dat jy dan die kamera kan beweeg wanneer jy die knoppie druk - en dan is jou herinneringe ge-blur vir die res van jou lewe - En op jou oudag land jy in 'n psigiater se spreekkamer met Geblurde-herinnerings-issues. Glad nie lekker nie. Nou teen hierdie tyd is daar 'n paar dinge wat jy kan aflei - As jy jou kamera se sluiterspoed laag het, kan jou foto dalk oorbelig, as jy dit te hoog het, kan die foto onderbelig. Ons weet mos reeds dat met die A knoppie kan jy diepte van veld beheer - wat handig is as jy sekere dele van die foto uit fokus wil laat wees. Nou kom ons veronderstel dus ek wil 'n landskap teen laatmiddag afneem... As jou kamera op Auto of P gestel is, kan dit wees dat die kamera kompenseer vir die lig (die kamera word immers gevra om te interpreteer). Om daardie rede word die diepte van veld verminder na F3.5 (of so). Wat gebeur nou met jou diepte van veld? Natuurlik, weens die groot lensopening (klein getal) is die in-fokus gedeelte baie klein/min, en is die foto nie so goed nie. Nou maak jy 'n plan. Jy skakel jou kamera oor na A - (soos jy in die vorige les geleer het) - en nou skakel jy oor na F11 of F22. Die kamera besef onmiddellik dat daar 'n plan gemaak moet word, en stel op eie inisiatief die sluiterspoed stadiger- dalk selfs na 1 sekonde (gebaseer op hoeveel lig daar is). Omdat dit langer as 1/60e van 'n sekonde is (om die waarheid te se - presies 60 keer langer), haal jy jou driepoot uit en neem 'n ongelooflike foto. Dalk - dalk nie... Jy wonder of dit gaan werk - Daarom gaan hierdie kursus voort in die volgende les - Sien julle daar!
Read more…
Comments: 1

Stap vir stap - Deel 6 - Diep dinge

Nou toe - ek het mos in die vorige les vertel dat ons oor diep dinge gaan gesels? "So - hoe was jou kinderjare?" Toemaar - ek sal nie met die sielkunde voortkarring nie - Waaroor dit eintlik gaan is DIEPTE van veld! Daardie "A" of Av knoppie op jou kamera! Dis seker een van jou beste vriende! Dit help jou om te fokus op die gedeelte van die foto wat jy merendeels in fokus wil he, asook as jy alles in fokus wil he. Nou, hier is die eerste - baie eenvoudige - verduideliking - As jy jou kamera op die A knoppie sit, dan het jy die keuse om te bepaal of jy wil neem teen dinge soos: F2.8, of F8, F11, F22 ensovoorts. Nou net een woord van waarskuwing - agter hierdie nommertjies is verskuilde wiskunde. YIKES! Ek weet - ek druip daai ou vakkie al van graad 4 af... Maar die kern wat jy moet verstaan is die volgende - hoe groter die getal, hoe kleiner is die lensopening (oftewel Aperture) - A - dis waar die A vandaan kom - A-perture! Jy sien - maklik... Maar hoekom nou die omgekeerdheid van getalle - dit gaan eintlik oor breuke - so F22, in kort, is 1/22 oftewel een-twee-en-twintigste... Nou selfs met my krok-wiskunde, weet ek da 1/22 minder is as 1/8e. Maar nou vir die lekker grap... Hoe GROTER die getal dus, hoe KLEINER is die lensopening, MAAR - hoe MEER diepte van veld is daar - (dus - jy kan baie meer dinge in fokus kry). Goed, as jy nou totaal deurmekaar is - hier is die eenvoudige reel: F11, of F22 ens (dus groot getalle - maar klein lensopeninge) gee jou baie diepte van veld, terwyl F2.8, F5.6 ens jou weer minder diepte van veld gee (jy kan dus 'n paar dinge in die agtergrond uit fokus hou - veral as hulle steur in die foto). Prakties dus as volg: As jy 'n peleton soldate afneem teen F2.8, gaan jy dalk net die voorste 2.8 kan afneem, maar op F22 kan jy dalk al 22 afneem. - dit som eintlik alles op wat jy hoef te wees! (Wonderlike goed - soldate) Kom ons toets of jy verstaan: Jy wil 'n landskap afneem - voor is 'n rots, agter is berge - alles moet in fokus wees - watter F-stop sal werk? F2.8 of F11? Natuurlik - F11 - goed gedoen! Nog 'n vragie: Jy wil 'n blom afneem met die agtergrond uit fokus - wat sal die beste wees - F22 of F2.8 - ? Maklik! F2.8 (Goed, hier sal ons later natuurlik ook moet praat oor Macro verstellings ens - maar ek glo die punt is duidelik). NOU! Onthou dat saam met die f-stop werk die lens se sg fokale-lengte - ook daaroor gaan ons later meer gesels - onthou net dat langer lense beter daarin kan slaag om die agtergrond te "blur" as die kort lensies wat dikwels op kompakte kameras is. Ek weet die wiskunde in hierdie les is baie, maar onthou dis baie eenvoudig - MAAR daar is iets wat BAIE BELANGRIK begin word - die lensopening en die sluiterspoed (ons volgende les) - werk baie nou saam. Hoe kleiner die lensopening (hoe groter die getal dus - bv F22 of F11), hoe meer lig is gewoonlik nodig om die foto reg te belig. En daarom moet die kamera se sluiter langer oop bly om die lig in te laat - ! Wat dalk kan beteken dat jy die driepoot gaan moet inspan al lyk dit of dit helder lig is. Hierdie verhouding - die tussen sluiterspoed en lensopening - is seker die belangrikste verhouding ooit (behalwe Charles en Di - vir die wat erg is oor die koningshuis). Nou volgende keer meer oor sluiterspoed - en dan gaan ons kyk hoe die verhouding grotendeels jou verfemmer beinvloed - Fotografie is immers "om te verf met lig".
Read more…
Comments: 2

Stap vir Stap: Deel 5 - Om te "P" of nie?

Nou ja, laas keer het ek gesels oor die gevaarlikste knoppie op jou kamera - Die AUTO ene, want hy maak van jou 'n vriend, jy word dus 'n Auto-maat, en verloor daardeur BAIE kreatiwiteit. Nou ja, toe het ons oor die "P" knoppie begin gesels, die gids van die kamerawereld wat jou begelei na meer kreatiewe moontlikhede. EN hier begin een van die interessante debatte... Jy sien, "P" laat jou toe om RAW te neem (as jy wonder van wat ek praat, loer gerus na die vorige lesse), sowel as om verstellings op jou kamera te maak ten opsigte van spoed, ISO en diepte van veld. Die voordeel van "P" is dat die knoppie poog om met die gegewens wat jy het die beste moontlike foto te neem. Nou, vir baie mense is die veiligheid van "P" genoegsaam. Die Bekende Amerikaanse troufotograaf, maak geen geheim daarvan dat hy vir al die troues (tensy hy spesiale effekte wil skep) van P gebruik maak nie - hy reken sommer dat P vir professioneel staan. Maar hier is die gevaar van "P" vir iemand wat net begin leer van fotografie - dis soos Ritalin, dit laat mens jou ondersoekende geaardheid verloor - en dis 'n reuse gevaar. Die LEKKERTE van fotografie is juis die ontdekkingsreis, so - groot asseblief - "P" is handig om op terug te val, maar moenie daar vashaak in jou leerproses nie - daar is wonderlike, wonderlike ander verstellings... NOU van julle sal agterkom dat hierdie les bietjie oorvleuel met die vorige ene - maar hier is die BONUS (skande, julle betaal nie eers daarvoor nie, dis sommer verniet, sien - ek gee werklik om! :-)) Bonusles: Zero jou kamera! Wanneer jy begin eksperimenteer, leer die volgende gewoontes aan, en hou dit vir ALTYD: Kyk, dis mos logies dat mens sal kyk of die batterye gelaai is, en die geheuekaart geformatteer is. (Logies, maar tog vergeet ons almal op 'n stadium). TOG hier is die belangrike ding: As jy bg nagaan, maak 'n gewoonte om jou kamera te ZERO. Goeiste, wat bedoel die man? Maklik. Omdat jy eksperimenteer (want jy wil graag goeie foto's neem) vergeet jy dalk dat jy die verstellings verander het. (Die foon lui of die ketel kook of die kinders skreeu - daar's altyd iets om jou eksperiment te onderbreek). Nou wanneer jy weer gaan foto's neem, en jy onthou nie van die verstellings nie, kan die volgende fotosessie dalk 'n nagmerrie word... Dis hoekom mens die kamera Zero. Dit beteken bloot jy loer vinnig of die ISO (ons gaan meer daaroor gesels later) reg gestel is, dat jy die regte opsie (P, A, S ens) gekies het, en dat jou Wit Balans reg gestel is vir die geleentheid - dis al - maar as mens vergeet om te kontrolleer maak jy jou eie nasorgwerk baie moeilik... en dan verlang mens na die AUTO knoppie, en word die gevaar groot dat jy weer sy slaaf gaan word... Nou ja, hoop dit maak sin sover - die pret is besig om te begin... Volgende keer gesels ons oor baie "diep" dinge...
Read more…
Comments: 0

Die Kleur van Lig

Nou terwyl ek so met die stap vir stap lesse besig is, wil ek darem ook wys wat ek bedoel. Het gou vanmiddag vir Marietjie en Heinrich foto's geneem. Ek het weinig verstel, maar die laterige middaglig en die groen omgewing kombineer nogal lekker om die atmosfeer te "lig". Ek moes ook fill in flash gebruik, om hulle gesigte bietjie meer te lig.

In die volgende foto het ek sommer net bietjie gespeel met die sonlig wat van agter/bo af op hulle hare geskyn het - let op dat die kleur nie so helder is nie, en dat die afstand dit moeilik maak om genoegsame lig op hulle gesigte te kry - tog geniet ek net die storie in die foto - die een ding wat my wel pla is ie boom in die agtergrond, ek kon die hoek dalk verander het dat die boom nie so "uit hulle koppe" groei nie - tog, as hulle albei regs van die boom was, het ek weer die dilemma gehad dat die boom die foto in twee verdeel het, met niks eintlik aan die linkerkant nie.

Read more…
Comments: 0
Wat dink jy is die gevaarlikste knoppie op jou kamera? Wel, een van die gevaarlikstes is seker die "delete all" of die "Format" knoppies. Maar hulle is nie die gevaarlikstes nie. So wat is? Yip! Daai groene! Die "Auto" knoppie. Hoekom? Dis die vinnigste manier om die fotograaf in 'n gemaksone in (lees: "Weg van jou kreatiwiteit") te neem. Mens druk net die knoppie, en tjop-tjop is die foto daar. Dikwels is die komposisie, die foto self en alles redelik, soms selfs goed, en in baie gevalle regtig goed. (Ek "cover" solank vir almal wat dink ek weet net nie hoe om goeie foto's met auto te neem nie. Tog, kom ek verdedig myself (moet my nie met tamaties gooi nie, jy maak net jou skerm vuil :-)). Met die kamera op AUTO doen jy die volgende: Jy vra die kamera om alles te interpreteer - die lig, waarmee jy verf, die fokus - waarmee jy dinge laat uitstaan, die formaat - jy kan nie RAW foto's neem as jy op AUTO is nie - die foto's moet immers interpreteer word, - of jy die flits (Flash) gebruik ens ens. Eintlik beheer jy net die komposisie. Nou, dis nie altyd verkeerd nie - as 'n breinchirurg opereer is daar werk wat deur sy span gedoen word, bloot omdat hulle kan... (soms is daar dinge wat AUTO wel kan doen). Tog, die span doen nie die fyner breinchirurgie nie. Wel, hopelik nie, mens slaap mos, so die getuies is nie baie nie... Onthou, AUTO is 'n handige funksie as mens nie jou kamera goed ken nie, of as jy onseker is oor wat jy moet doen. (Nie van die dinge wat jy van die plaaslike breinchirurg sal verwag nie: Onkunde en Onsekerheid) Maar AUTO se groot doel is om ons, soos Big Brother, (Wie onthou nog 1984?) slawe van die sisteem te maak! Regtig. Hulle noem dit die Groot Auto Conspiracy. Ek vermoed ook Dan Browne gaan in sy volgende boek daaroor skryf. Dis tans nog moeilik want die mense wat agter dit sit is baie slinks en werk in hoogs geheime omstandighede. Maar wat dan as ek weg van AUTO beweeg? Eerstens, baie geluk - jy is besig om die AUTO sameswering 'n ding te wys - en jy is oppad na Kreatiewe Werklike Vryheid - afgekort is dit KWV. Wees bly ek het nie gepraat van Werklike Kreatiewe Vryheid nie. Hulle die WVK, gaan binnekort weer sit - om mense se stories te hoor wat in die AUTO verstelling vasgevang was. Genoeg stories. Dis hier waar die debat gaan begin... AUTO se ouboetie is Die P (Program) knoppie op die kamera. Nou dit is die eerste treetjie weg van ons gemaksones af - as ons oorskakel na P. Met P doen die kamera self die interpretasie van die lig en sluiterspoed. Dit laat jou egter nou toe om kreatief te wees. Dis amper soos 'n goeie ouer wat sy kind stadig uit die huis stuur. Nie na 'n oorlogsone of 'n rampgebied nie, maar eers na die vriendelike buurt, die bekende omgewing. Niemand weet dit eintlik nie, maar P staan vir Protect the Photographer. Hou dit egter stil, dis net 'n klein binnekring mense wat daarvan weet (nudge, nudge, wink wink - say no more). Nou ja - volgende keer gaan ons bietjie meer oor P gesels, en dan oor al sy vriende (A, Tv, S, ens) in 'n ry. Jy gaan ook kans kry om met elkeen te speel - en ja, hand aan hand beweeg na die land van Kreatiewe Potensiaal.
Read more…
Comments: 0

Stap vir stap - Deel 3 - White Balance

Nou teen hierdie tyd het jy al seker genoeg gehoor van leergroottes, RAW en allerhande dinge. Jy wil foto's neem, en jy wil hulle nou neem - jy het nie verniet gisteraand Queen se "I want it all and I want it now" geluister nie. Goed, as jy nie het nie, is jy dalk bietjie ongeduldig. Maar moenie kommer nie, ek verstaan, dis maar tekens van die tyd. So, as jy klaar jou sielkundige gesien het, laat ons begin. Fotografie beteken letterlik: "Om te verf met lig." Ja, elke keer as jy agter jou kamera staan is jy soos 'n skilder voor 'n palet. Die skilder werk met kleure om atmosfeer te skep, en ja, ons werk ook met kleur. Dikwels wil ons bepaal hoe die atmosfeer is, dink gerus aan lig in die volgende omstandighede: 12:00 in die middag op 'n helder Vrystaatse somersdag (die lig is helder en hard) 12:00 in die middag - donderwolke in die lug (die lig is grys en dreigend) Net voor sonsopkoms - die lig verander van donker - na skemer - na oranje - na geel - na blou En so aan... Nou as ons die prentjie met die atmosfeer wil vasvang, is die ideaal om die kamera ook te vertel wat die "atmosfeerkleur" (hierdie woord is my eie, maar voel vry om dit te gebruik, dit kan dalk die voortbestaan van Afrikaans help verseker) van die lig is. Nou hoe doen mens dit? Maklik! Jy onthou seker die AWB? Nee, nie die politieke party nie, daai knoppie agter op jou kamera! Nou AWB staan vir Auto White Balance. So voor ons na die Auto gedeelte kyk, kom ons gesels oor die White Balance gedeelte. As mens die White Balance verstel, vertel jy vir die kamera wat "wit" is (ons kan later meer tegnies gesels oor wit as 'n skakering van grys, maar ek is seker ons gaan nie nou daaroor kommer nie). Nou sodra die kamera weet wat "Wit" is, kan die ander kleure interpreteer word om so "juis" as moontlik weergegee te word. Nou die White Balance verstellings is onder andere: AWB Tungsten Cloudy Fluorescent ens So kom ons kyk sommer na die maklikste een eerste AWB - jou kamera probeer outomaties om te bepaal wat wit is. Die arme ding kan bietjie verward raak as jy in 'n roomkleurige kamer met roomkleurige gordyne is. Dis dan dat die foto's so 'n gelerige skynsel het. Of, as jy in die koelte staan kan die foto so half blouerig lyk - wit is immers nie so maklik om te onderskei in die skaduwee nie. So as die kamera dit outomaties doen, waarom moet ek dit verstaan? Baie goeie vraag. Eerstens, omdat dit jou baie help. Ek het nooit wiskunde verstaan nie, en mense vertel my vandag nog dat dit my iewers gaan inhaal en dat ek op 'n sielkundige se sofa gaan smag na herstel. Darem nie regtig nie. Hier is die regte rede: As mens White Balance verstaan is jy oppad na kreatiewe moontlikhede. Dink nou gerus aan hierdie voorbeeld. Jy het al gesien sommige landskappe het so 'n mooi geel-oranje-oggendrige-mooi-kleur. Jy dog dis Photoshop - VERKEERD. Hier is die fotograaf se tegniek... As ek vir my kamera aandui dat dit bewolk is, gaan die kamera mos dink: "AHA, die wit lig is bietjie blouerig." So wat doen die kamera - om van die blou ontslae te raak kom daar bietjie oranje by - en "Wha-la" jou landskap kry daai mooi geel-oranje-oggendrige-mooi-kleur. Dis nou maar een voorbeeld - mens kry nogal besondere weird foto's (weird is nog nie 'n erkende afrikaanse woord nie, wat nogal weird is as mens daaroor dink) as jy bv jou White Balance op iets soos tungsten sit. Ek doen dit gewoonlik vir foto's van my skoonma en ander spesiale effekte :-) Goed, verstaan dus mooi - Auto White Balance is goed vir "rekordfoto's;" maar as jy wil eksperimenteer en jou fotografie-potensiaal verder uitbrei - maak seker jy verstaan White Balance se moontlikhede. ONTHOU ook om, nadat jy eksperimenteer het, weer jou White Balance te verstel na waar jy dit verkies. (Gewoonlik AWB). Ek het al gesien hoe mense 'n kamera inhandig vir herstel omdat hulle dink dit het gebreek - dan was die White Balance net op iets soos Tungsten en Fluorescent. (In sommige gevalle was dit wel 'n kraak in die lens, maar dit was suiwer agv die onderwerp wat afgeneem is - wees asb versigtig vir skoonma's). BELANGRIK: Soos wat ek gesels gaan ek al meer van die lesse bymekaarbring - so die volgende volg op Deel 2 (dit is hoekom hierdie Deel 3 is, en op deel 2 volg, maar as jy soos ek in wiskunde is, vergewe jouself dat jy nie geweet het nie en kom oor dit): Wanneer jy jou foto's in RAW formaat neem doen die kamera mos nie interpretasie nie. Dit beteken dus dat jy die White Balance na die tyd kan verstel - na enige een van die moontlikhede toe (die meeste RAW conversion programme laat dit toe). Verstaan julle hoekom RAW al belangriker word as jy ernstig is oor jou fotografie? Sjoe - hierdie was 'n lang les, maar ek hoop julle verstaan so bietjie meer van White Balance. Ek sal later uitbrei oor die temperatuur van lig en al daardie aspekte, vir nou wil ek glo julle sien kreatiewe moontlikhede en gaan so bietjie eksperimenteer - Lekker! As daar vra of idees is, deel dit gerus!
Read more…
Comments: 0
Nou goed, noudat ons weet dat ons foto's op die hoogste moontlike kwaliteit geneem moet word (sien Stap vir stap - Deel 1), kan ons na die volgende stap oorgaan. Moet asseblief nie skrik vir die vlge drieletter woorde nie: JPG TIF RAW Vir die beginner lyk van bg woorde/afkortings dalk vreemd. Tog, die meeste van ons ken die gewone JPG of JPEG formaat foto's, want dis die een wat die mees algemeenste (sjoe - goeie Afrikaans ne) in gebruik is. Nou die JPG formaat laat jou toe om foto's van 'n redelike tot baie goeie gehalte te neem. Hier is wat basies gebeur as jy 'n JPG foto neem: 1) Die kamera "help" jou om te interpreteer deur die kleure, en selfs die kontras so bietjie op te helder. 2) Die kamera maak die foto bietjie kleiner - onthou, in die ou dae het ons soms met 8MB geheuestokkies gewerk. So die JPG formaat het ten doel gehad om die beste van beide die spasie en die kwaliteit te maak - Ja, die "best of both worlds," soos Hannah Montana sou sing. 3) Die foto word as JPG gestoor, so as jy dit op jou rekenaar aflaai kan jy dadelik daarmee speel, of dit vir jou verlangende familie in Perth aanstuur. Die TIF formaat word minder algemeen gebruik, maar die foto word nie so "verklein" of, in mooi Afrikaans - compress - soos die JPG nie - Tensy jy 'n spesifieke behoefte aan TIFF leers het, is dit nie nodig om jou foto's in TIFF formaat te neem nie. As jou kamera dit toelaat, en jy wil dit graag gebruik (jy is waarskynlik ook die tipe wat stinkbomme in die skeinat klas vervaardig het), doen dit gerus - eksperimentering het nog nie iemand seergemaak nie (OK - behalwe vir 'n paar wetenskaplikes en daai ou wat van die brug af wou vlieg met sy selfgemaakte vlerkies). En nou vir RAW - Die afgelope tyd het RAW al meer gewild geword. Hoofsaaklik as gevolg van die toename in vegetariers wat besluit het rou vleis is wel reg vir hulle dieet. As jy die vorige sin glo, baie geluk, jy glo ook dat die Tandmuis bestaan - jammer om jou in te lig - ag toemaar - glo maar wat jy wil. Ek is nie hier om drome te verydel nie. Haai, ek dwaal af. Terug na RAW: As jy jou kamera verstel om in die RAW formaat te neem, neem die kamera die foto sonder interpretasie (kleur en kontrasverbetering) of White Balance verstelling. Die kamera neem soveel data as moontlik af, maar die foto is bietjie modderrig - die meeste RAW foto's word later verwerk. Nou hoekom sal enige normale mens - (behalwe nou Vegetariers... - askies, ek kon nie help nie), dan RAW foto's wil neem. Wel, omdat die data belangrik is. As ek 'n landskap in RAW afneem kan ek na die tyd groot verstellings aan my beligting en kontras maak met 'n program soos Lightroom. Omdat ek meer data tot my beskikking het, het die kamera meer kleur ens vasgevang, wat dit dan heel bruikbaar maak. Onthou dat baie "kompakte" kameras nie RAW kan neem nie - hulle doel is om vinnige rekordfoto's te neem, nie noodwendig om landskappe vir publikasie in National Geographic af te neem nie. Goed. So wat is die voor- en nadele van RAW... Die grootste voordeel is daardie baie data tot jou beskikking. EN dit lei daartoe dat jy na die tyd steeds aan jou foto kan verwerk na iets ongelooflik... Glo dit as jy wil, maar die verwerking van foto's raak al meer belangrik. Die nadeel: Kameras se RAW formate verskil. Jou RAW foto's gaan waarskynlik eers verwerk word, en dan na JPG "convert" word voordat jy dit met ander kan deel. Verskillende kameras (NIKON, SONY, CANON ens) se RAW formate verskil - en om daardie rede moet dit CONVERT word, sodat jou rekenaar dit kan verstaan. Ek hoop hierdie verduideliking help so bietjie. In die Gespreksforum het ons 'n lekker gesprek oor die RAW en JPG ding. Deel gerus jou opinie. NB - Omdat jou RAW foto's nie interpretasie doen nie, gaan hulle meer "duh-dof" lyk as die JPG's, maar onthou - daar is baie meer kleur as wat dit op die oog af lyk- so moenie jou laat mislei nie - julle weet mos van die lelike eendjie - Wel dit is ook die storie van die RAW leerformaat. Dit lyk lomp, groot en nie so mooi nie - maar met die regte behandeling word dit 'n pragtige swaan!
Read more…
Comments: 0
Hallo Almal, Met hierdie stap vir stap reeks beoog ek om op gereelde basis aspekte van fotografie aan te spreek soos ek dit in kursusse doen. Die doel is om waarde toe te voeg tot almal by fotoskool, maar ook om julle opinies te kry oor die aspekte wat bespreek word. Waar begin 'n goeie foto? - Sommige reken dis die kamera, ander reken dit is die fotograaf, maar albei daardie faktore beteken niks as die data wat deur die kamera vasgevang word van swak gehalte is nie. Nou hoor ek al sommige vra: Wat die hoenders bedoel die man? So laat ek verduidelik: Die meeste digitale kameras bied 'n verstelling wat aandui watter grootte die foto wat geneem word moet wees - dikwels is dit iets soos L of M of S. Wat beteken dit? Wel, dis maklik - dis soos om 'n T-hemp te koop - jy weet - large, medium of small :-) Ander kameras praat van die kwaliteit as Fine ens. So watter verstelling? GROOT ASSEBLIEF - die beste een wat jou kamera toelaat. Die rede is eenvoudig. Daar word meer data deur jou kamera vasgevang en hoe meer data mens het, hoe meer kan mens met jou foto's doen. Nou julle sal ook sien dat baie kameras die keuse tussen verskillende leerformate bied - dit word elders bespreek, maar ek sal volgende keer ook meer daarvan praat - dit is nou dinge soos RAW, JPG en TIFF. Baie kameras laat jou dan RAW + JPG Fine ens neem - as dit nog steeds Grieks klink, moenie kommer nie - ek sal ook volgende keer meer daaroor gesels - vir nou - die kort les wat ek wil deel is eenvoudig: Neem foto's van die beste gehalte data - spasie op rekenaars word goedkoper, maar geen rekenaar kan "pixeldata" wat nie vasgevang is terugwen nie. So loer gerus na jou kamera - kyk op watter kwaliteit dit gestel is - want dit is waar goeie foto's begin.
Read more…
Comments: 0

Roosfoto Kompetisie

Graag deel ek die fotos wat onderskeidelik eerste en tweede gekom in hulle eie kategoriee. Die high key foto was eerste in die enkelroos afdeling en die twee rose was tweede in die Rose met.. kategorie
Read more…
Comments: 1

Koffietafel-fotoboeke

Hi almal!Ek het verlede week foto's geneem vir 'n kliënt, en sy wil graag 'n koffietafel-fotoboek laat druk. Ek het dit nog nooit voorheen gedoen nie - het wel heelwat ervaring van Paint Shop Pro en digitale scrapbooking. Kan julle enige verskaffers aanbeveel? Ek sal enige wenke waardeer!
Read more…
Comments: 1

Die neem van Gesinsfoto's

Hallo Almal, Ek moes vanmiddag na werk 'n paar gesinsfoto's vir 'n vriend neem. Ek deel sommer so een of twee gedagtes. Dis sommer net lekker om 'n gesprek aan die gang te sit - en ja, dalk inspireer dit nog mense om gesinsfoto's op groepfoto idees te kom ruil. Sonja het onlangs gesels oor moontlike plekke vir lekker foto's. Ek vind dat enige stuk veld altyd lekker werk vir foto's van kinders. (Dink maar aan die mooi foto's van kinders wat hardloop in die gras, speel in die gras ens) Die kinders het lekker ruimte om in te beweeg, die gras skep natuurlike dekor, en ja - mens kan sommer in die algemeen lekker speel. Laat weet gerus as julle meer idees rondom dit het. Hier is sommer een van die foto's wat wys wat ek bedoel:

Ek probeer altyd om die blou lug (of soms wolke) as 'n "doek" in die agtergrond te gebruik. Dis ook nogal lekker as die gesin informeel poseer, soos op hierdie foto: (dikwels is oogkontak nie so noodsaaklik as mens interaksie binne in die foto het nie).

In terme van die agtergrond het ek probeer om 'n bietjie van 'n natuurlike raam te skep met die bosse aan weerskante. Ek was nie seker of dit sou werk nie. Dit help egter om die gesin in die middel van die foto te hou, en dus kon ek die reel van die derdes so bietjie oortree. Die persone se posisie maak ook nogal 'n verskil. In die een foto is daar 'n horisontale lyn tussen die persone, en in die ander een 'n diagonale lyn. Beide is effektief, en die hoofdoel was om seker te maak dat almal in die foto's verskyn:

Hier is die ander lyn:

Nou ja, deel gerus idees, ek hoop wat ek noem maak darem sin en lei tot meer gesprekke! O ja, daar was darem nog een lekker oomblik, en ek kon die diepte van veld bietjie kleiner maak om die volgende foto te neem:

Read more…
Comments: 0

Fotogeleenthede

'n Voorstel:As iemand weet van geleenthede waar foto's geneem kan word, kom ons sit dit op die blog sodat daar meer van ons kan deelneem?? Almal van ons werk en leef in verskillende rigtings en weet van verskillende geleenthede, almal is altyd op soek na iets om af te neem. Soos die lugskou, of soos Colin Steyn se skyngevegte ens.Wat dink julle daarvan?Sonja Myburgh
Read more…
Comments: 2

RAW vs JPEG

As ek 'n inset hieroor kan lewer - as beginner fotograaf het ek nie die nut ingesien van RAW nie, maar soos ek meer ervaring gekry het en met Lightroom en Photoshop op 'n meer gereelde basis begin speel het, het ek die waarde van RAW besef. Jy het net soveel meer beheer oor jou kleur, saturasie en enige ander verwerking waaraan jy kan dink sonder om resolusie te verloor. Na 4 jaar wat ek stelselmatig RAW begin gebruik het, skiet ek nooit meer met enige ander formaat nie. Om myself hier te korregeer - as ek in die veld is en my spasie op my memory card raak min, moet ek bieg, ek gaan liewer oor na JPEG large as om 'n fotogeleentheid op te offer. So in 'n neutedop - skiet ek RAW en sorg dat ek genoeg memory cards by my het. ( en natuurlik genoeg gelaaide batterye ook!)Lekker skiet.Sonja
Read more…
Comments: 3

Fotogroottes en tipes lêers

Net 'n kort blog om bietjie julle gevoel te toets - Eerstens - watter grootte memory stick is ideaal? Ek sal graag julle idees wil hoor - maar my gevoel is dat 4 X 2GB stokkies (veral vir troues) meer betroubaar is as 1X 8GB. Veral met troues (Dankie vir Sonja Myburgh vir daardie wenk), want mens kan selfs die verskillende dele van die troue (bv wanneer die bruid aantrek ens) op 2 stokkies neem - net om te verseker dat een stokkie jou nie in die steek laat nie. Tweedens is die JPG teenoor RAW debat amper net so warm soos die destydse DIGITALE vs FILM debatte. Sal graag idees wil hoor - neem mens bv sportgeleenthede in RAW? (Want dan moet jou kamera redelik vinnig kan skryf na die geheuestokkie, anders gaan jy kanse verbeur...) Persoonlik glo ek mens moet landskappe in RAW neem --- dan is daar nog die oop vraag oor kinderpartytjies en troues... Wat dink julle? Deel gerus 'n paar gedagtes - in die opmerkings - of op jou eie blog --- onthou ook jy kan links na jou persoonlike blog hier laai as jy nie nog 'n blog wil begin nie -
Read more…

Geniet en Leer!

Twee dinge van fotografie: Sover moontlik moet mens dit geniet. En waar moontlik moet mens leer. Nou weet ons almal leer is nie altyd lekker nie. Veral as jou foto's nie gewerk het nie. Jy voel jy wil die kamera eenkant gooi (of vir die res van jou lewe op die auto en P funksies vertrou). Gelukkig is ons in 'n digitale era waar leer nie so duur is as in die tyd van film nie! Juis daarom moet mens beter as ooit raak in terme van jou kamera en komposisie kennis. En aanhou leer... Dis vreeslik as mens weet dat die fotogeleentheid daar was, maar wanneer jy na jou pas afgelaaide foto's op die rekenaar kyk wonder jy hoe jy alles gemis het. Onthou altyd hierdie is nie die tyd vir moedeloos raak nie - dis prima-leertyd. Moenie vergeet dat jou kamera die sg EXIF data vasvang nie, en daarmee kan jy gaan kyk wat die sluiterspoed, Lensopening en ISO was. En daar lê dikwels waardevolle redes vir 'n foto se sukses of mislukking. Dus, in kort. Vergeet van moedeloos raak - gebruik mislukking as die kunsmis om te groei. (Failure is Fertilizer) En geniet jou fotografie!
Read more…
Comments: 0

Een van die waardevolste lesse

Dis seker die mees waardevolle les wat mens in fotografie kan leer. Maak seker dat jy jou kamera by jou het. Dis nogal moeilik om foto's te neem sonder jou kamera. En saam met daardie les is daar nog enetjie wat nogal waardevol is: Maak seker jy het 'n driepoot by jou. Onthou: Die kamera se klein LCD skerm vertel nie die ware verhaal nie. Ook nie die rekenaarskerm nie. Dis eers as mens jou foto op volle grootte sien (100% View of Ctrl+Alt+0 in Photoshop) dat mens besef dat die fokus nie altyd is wat dit moet wees nie. Vir lae lig kondisies is 'n driepoot essensieel. Maar wat gemaak as ek dit nie het nie? Onthou dat mens die kamera op iets kan sit, en onthou ook om eerder die "self-timer" te gebruik as om direk te neem (dit verseker dat jou vinger se beweging nie ook die fokus help versleg nie). O ja - as jy na jou LCD paneel kyk, let gerus op dat wanneer jy jou foto's terugspeel om te kyk of hulle reg is, is daar gewoonlik 'n klein vergrootglasie by een van die knoppies - (gewoonlik binne bereik van jou vinger) - gebruik dit om vinnig in te zoem en te sien of die oë (of wat ookal belangrik is) in fokus is - dit kan die verskil tussen 'n vinnige herstel of 'n tragiese terugkeer wees.
Read more…
Comments: 0

Wat hier gebeur!

Hallo Almal, So nou en dan gesels ek met mense op fotografie werkswinkels, sosiale kuiertjies, en by die kameraklub. Mens is vol planne, gedagtes en jy leer sommer baie dinge. Dan neem die tyd weer sy loop, en skielik, drie maande later, het mens vergeet wat jy geleer en beplan het. As amateur fotograaf bly ek in verwondering oor ons stokperdjie, en die feit dat mens die heeltyd aanhou leer. Daar is soveel nuwe dinge, soveel lekker dinge...en soveel dinge wat mens graag wil deel. Juis om hierdie rede begin ek hierdie klein gemeenskappie met die naam fotoskool. Dalk wil jy net foto's deel. Dalk wil jy 'n koppeling na jou blog of webwerf opstel, dalk het jy 'n besonderse foto gesien, en wonder jy hoe die fotograaf dit reggekry het. Wel, hier is die plek waar jy jou stem kan laat hoor en jou foto's kan laat sien, of bloot waar jy kan kom kuier en vrae vra. En dalkies, net dalkies kry jy antwoorde. Van my kant af hoop ek om gereeld lekker stukkies inligting te deel! Kom kuier gerus saam - skep jou blog, neem deel, lag en leer. Dis lekker! Igno van Niekerk
Read more…
google-site-verification: google66c860d217920dd7.html